Henning Pieterse
Strijdomplein
Vir Robert Lowell
Die nuwe Strijdomplein
staan blink tussen bont geure,
vlaggies en snuisterye uit die hele Afrika.
Niks sou destyds sy marmer kon kraak nie.
As kind moes ek die inwyding
van ou Strijdom se kop bywoon.
Ons het in die wit hitte gestaan
met ons vlaggies, volksliedere gesing.
‘n Falanks histeriese bronsperde
het die blou lug ingerunnik;
Hans Strijdom se gemonteerde kop
het blind noord deur ‘n fontein gestaar.
Dié dag het ek gewens ek was
in die ou Transvaal-museum,
blokke verder van die bleek plein
in skaduryke Boomstraat,
my neus gedruk teen die koel glas
van die kas met die mummie daarin,
kompleet met ‘n gat in die groottoon,
uitgevreet deur ‘n muis van tyd.
(Deesdae staan die museum en vrot
langs die nuwe groen dieretuin,
sy luike en hortjies swaar ooglede
teen die leegheid binne-in.)
Van laer af in Kerkstraat
het speserye aangewaai gekom:
koljander, paprika, peper, knoffel,
gemmer, kerrie, kardamom.
Binnekort sou die winkels se base
hul hemelse geure moes skuif
na Lotus Gardens, Laudium, Christoburg,
ver weg van wit oë en neuse.
Ek het gehyg op die teëls,
na water gesmag.
dominees en staatsmanne
het hittig gepreek deur die hele dag.
Jare later sou Barend Strydom
sewe swartmense op die plein afmaai.
Hulle het suurstof gesteel,
het hy die regter onironies meegedeel.
En daar stort die kop deur die marmerteëls,
skouspelagtig tot in die parkeerterrein,
die tombe diep onder die plein
waar ek soms gedaantes in skemer sien dwaal het.
Net Strijdom se neus het gesteek uit die puin.
Die fontein het spontaan verdroog.
Die perde met hul wilde maanhare en oë
is na groener weivelde verskuif.
Vandag loop ek weer en snuif en ruik
Afrika op die nuutgeteëlde plein.